Vensters van jou siel
“ ‘n Mens se oë word
geag as die vensters van jou siel, die sleutel tot jou gedagtes, maar dit is
eintlik, heel eenvoudig, die pad na jou hart.
Die mooiste groot
blou-groen oë wat tot in mense se siel kyk, dit het ek. Dié blou-groen oë wat
diep tot in ander mense se siel kyk kon nie af kyk in my eie siel nie. Baie
lank en baie lank aaneen was my vensters bra wasig, en dan was my blou-groen oë
op hul mooiste. Nie omdat helder trane opgedam en weerkaats het teen die
wasigheid van my siel nie, maar omrede vir ‘n baie kort rukkie ‘n traan die
afloop was van die yslaag om my hart.
Vir my was dit die
maklikste uitweg om binne myself skuiling te vind, die veiligste hawe denkbaar.
‘n Veilige hawe weg van die “warm love and embrace” van die buite wêreld. So
ver dat ek weggevoer geraak het in my binneste, ‘n wereld van my eie waar ieder
en elk wat buite is verban was.
Elke traan wat gerol
het oor my wang, was ‘n druppel liefde wat ‘n spoor gelaat het in die yslaag om
my hart.
‘n Mens se oë, is nie
die vensters na jou siel nie, maar die pad na jou hart… “
Dit is werklik die waarheid dat die sterkste mense die nag
kan aan die slaap huil en soggens opstaan met die voorkoms dat daar geen kommer
in die wereld is nie… en dit, is alles in die oë. Baie lank was ek die person
wat myself in die nag aan die slaap huil, drome droom van ‘n vergete wonderland
en ‘n verlede waarna my hart smag met elke asem teug wat ek gee. Soggens maak
ek my oë oop en staar die wereld in die oë sonder om te blik of bloos oor die
oorlog binne my. Yskoud en afgesonder het ek die oorlog gevoer tussen my
verlede en my hede. My mooie kinderhart weggesteek en beskerm agter ‘n yslaag
teen die aanslae van die lewe.
Dié kuns moes ek op ‘n vroeë ouderdom bemeester, sodat die
storm in my siel nie wêreldwyd bekend raak nie. Ek glo ‘n storm woed homself
uit mettertyd, dus het ek maar my storms vir myself gehou. Dis natuurlik waar
my blou-groen oë baie handig te pas gekom het. Die feit dat hulle groot en rond
is, en jou boei in die oopheid en diepte daarvan het jou mislei van die waarheid
wat gekelder is in my siel… so ook het hulle gedien as die glas omhulsel van my
mooie kinderhart.
Hartseer, pyn en smart was nie meer die druppels wat teen
die glas omhulsel afgeloop het nie, maar dit was direkte spore op my hart. Die
spasie tussen die hartseer getoon aan die buite wêreld en die seer wat werklik
aan my hart snare getrek het, het verdwyn. Alles was een en dit het ontaard in ‘n
waterval van emosies. ‘n Waterval van emosies wat mettertyd genoeg spore gelaat
het om ‘n veilige pad na my hart te lê…